Deur Flip Buys
Die regering kry met reg kritiek oor die treurige stand van die land. Soveel van wat oor ʼn eeu opgebou is, is oorgevat, vervalle en selfs verwoes. Die rede hiervoor is tweeledig. Die uitkoms van meer as drie dekades van ANC-regering het duidelik gewys dat hulle nie in staat is om ʼn moderne land te regeer nie. Ons hét gevolglik ʼn regeringsprobleem. Die kwessie is egter ongelukkig nie so eenvoudig nie. Suid-Afrika se probleme lê dieper as dit. Ons het nie net ʼn regeringsprobleem nie, ons het ʼn bedelingsprobleem. Die vraag kan selfs gestel word: Is Suid-Afrika ʼn regeerbare eenheid?
Dit is nie ʼn onredelike vraag nie. Die verval in die land vereis ʼn dieper ondersoek as om bloot na verkiesingsuitslae te kyk. Die werklikheid is dat Suid-Afrika geografies en demografies geweldig uiteenlopend is. Die grootte van die land en die multinasionale bevolkingsamestelling wys dat Suid-Afrika meer ʼn landstreek as ʼn natuurlike land is – meer ʼn geografiese uitdrukking as ʼn regeerbare staat.
Dit klink onwerklik, maar Suid-Afrika is só groot dat agt Europese lande binne ons grense kan pas, naamlik Brittanje, Ierland, Nederland, Denemarke, België, Duitsland, Italië en Griekeland. Niemand sou dink dat dit moontlik is om hierdie agt lande sentraal saam te regeer nie. Tog is Suid-Afrika ʼn sentralistiese staat, waar die Wes-Kaap en Limpopo deur dieselfde regering met dieselfde beleid regeer word.

Die uitdaging is nie net geografies nie, maar ook demografies. Die beste bewys hiervan is dat die land 12 amptelike tale het, wat wys hoe uiteenlopend die bevolking is. Die regering probeer gevolglik Engels orals afdwing, met verwoestende gevolge vir die land se skoolstelsel.

Die gevolg van ons gesamentlike regerings- én bedelingsprobleem, is dat die staat op soveel terreine verval dat die land in werklikheid uit vyf soorte gebiede bestaan:
- Die eerste is gebiede wat goed regeer word;
- Die tweede is plekke wat vrot regeer word;
- Die derde is waar daar nie regeer word nie, en mense maar op hul eie aangaan;
- Die vierde is gebiede wat onregeerbaar is;
- Die vyfde is plekke waar die mense hulself regeer, omdat die staat nie in staat is om dit te doen nie.
Die onvermydelike gevolg van die regerings- én bedelingsprobleem, is dat die staat van bo af begin verval het. Dit is die slegte nuus. Maar daar is ook goeie nuus: die privaat sektor en
gemeenskappe begin van onder af opbou. Namate die polisie, gesondheidsorg en munisipale dienste ingeplof het, het die privaat sektor ingetree en oplossings soos privaat gesondheidsorg, privaat sekuriteitsdienste en selfs privaat dorpsgebiede in werking gestel.
Terselfdertyd het gemeenskappe ook ingeklim. AfriForum-buurtwagte is byvoorbeeld landswyd gestig, terwyl Solidariteit se instellings soos Sol-Tech, Akademia en Helpende Hand dienste lewer wat die staat nie wil of kán lewer nie.
Hoewel die staatsbestel dus sentralisties is, veroorsaak die verval dat die werklikheid begin desentraliseer. Mense wil nou maar eenmaal besluite oor hul eie lewens neem, en wil nie hul gesinne se toekoms aan korrupte, onbevoegde en rassistiese politici toevertrou nie.
Die Ons sal self-strewe is dus ʼn strewe na normaliteit. Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar sien ook nie uit na ʼn toekoms onder die ANC nie.
Daar is hoop vir die toekoms, ten spyte van ʼn regerings- én bedelingsprobleem. Die regering se mag oor mense se lewens neem af, namate individue en gemeenskappe self dinge begin doen. In die praktyk verander die sentralistiese bedeling in ʼn meer werkbare gedesentraliseerde stelsel wat makliker en beter werk. Hoewel die regering steeds probeer om meer mag te sentraliseer en mense se vryhede in te perk, sal hulle nie vir altyd teen die kragte van selfdoen, normaliteit en ʼn aandrang op vryheid kan standhou nie.