Die Solidariteit Beweging het vandag gesê dat die lening van sowat R70 miljard wat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) aan Suid-Afrika toegestaan het, aangewend moet word om die land midde die krisis te help en nie deur sekere politici as ’n skenking vir hul eie sakke of projekte beskou moet word nie.
Dit volg nadat sekere amptenare wat hoog op is onlangs betrek is by ’n ondersoek na korrupsie en tenderbedrog rakende die toekenning en aanwending van koronavirus-noodfondse, en verdere reddingsboeie aan ondermeer die SAL.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is lenings wat deur ’n regering aangegaan word uiteindelik ’n juk wat die belastingbetaler moet dra om die skuld te vereffen. Derhalwe dring die Beweging daarop aan dat presiese inligting rakende die aanwending van hierdie fondse bekend gemaak moet word om sodoende deursigtigheid te verseker. “Met ’n verwagte staatskuld van oor die 80% van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die jaar, kan ons nie bekostig dat fondse wat ten duurste bekom word om Suid-Afrika tydens die krisis te help deur korrupte kaders gekaap word, terwyl belastingbetalers vir die gelag moet betaal nie,” het Buys gesê.
Buys het voorts gesê dat die Beweging binnekort met die IMF in verbinding sal tree om te verseker dat daar strenger vereistes en maatreëls in plek gesit word vir toekomstige lenings met betrekking tot korrupsie en reddingsboeie aan kronies sukkelende staatsinstellings soos die SAL. “Hierdie vereistes is nie alleenlik daar om die IMF te beskerm nie, maar om Suid-Afrikaanse belastingbetalers en die land as ’n geheel teen verkwisting te beskerm. Ongeag die vereistes, indien daar voorts nie hervormings plaasvind wat pro-besigheid en ekonomiese groei is nie, sal Suid-Afrika in ’n strik van skuld vasgevang word waaruit hy moeilik sal kan herstel,” het Buys gesê.
Volgens Buys het Suid-Afrika nie meer die luuksheid om staatsideologieë soos herverdeling voor te staan wat ekonomiese groei demper nie. “Die fiskale ruimte is reeds uiters beperk en verdere deregulering moet plaasvind om dit vir ondernemings so maklik as moontlik te maak om sake te doen en werk te help skep,” het Buys gesê.