Die Solidariteit Beweging verwelkom die proses van uitfasering van die inperking, maar glo dat die regulasies meer verslap moes word sodat mense wat gesond kan werk weer kon terugkeer werk toe. Indien dit nie gebeur nie is dit ʼn geval van “te min te laat”, en bestaan die gevaar dat die regering baie mense vanweë hongersnood kan laat omkom in sy poging om te keer dat die virus nie mense laat sterf nie.
Die beweging verwelkom dit ook dat talle van ons voorstelle in die regering se nuwe regulasies verskyn omdat dit in ooreenstemming is met beste praktyke wat in ander lande suksesvol was. Dit behels onder meer maatreëls om gesonde werk te bevorder, en ook slim inperkings wat op dele wat erger onder die epidemie deurloop sal fokus.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê dat die grootste fout wat die regering maak is om te dink dat die staat in plaas van die privaat sektor die ekonomie weer aan die gang moet skop . Die Suid-Afrikaanse staat kan dit nie bekostig om deur groot geldelike inspuitings die land se ekonomiese wiele weer te laat draai soos wat die geval in ryk lande is nie.
Daarom is die enigste oplossing dat die privaat sektor bevry moet word om groot hoeveelhede geld in die ekonomie te pomp. Hierdie geld moet verkry word deur vir die volgende jaar belastings en regeringsregulasies dramaties te verlig, verliesmakende openbare ondernemings te verkoop, staatsuitgawes te sny en die armes se bestaanstoelae vir die volgende jaar te verhoog.
Beleggersvertroue
Terselfdertyd moet die regering beleggersvertroue dringend herstel om kapitaal na die land te lok deur skadelike beleidsrigtings te laat vaar en staatskapers wat tot dusver skotvry rondloop, te vervolg. Beleidsrigtings wat in landsbelang gestop moet word is: onteiening sonder vergoeding, die beplande nasionalisering van gesondheidsorg en die praatjies oor die gebruik van pensioengeld om verliesmakende staatsondernemings te subsidieer. Die rasse- en transformasievoorskrifte vir staatshulp is ook verdelend en diskriminerend, en behoort dringend verslap te word. Dit is jammer dat AfriForum en Solidariteit eers hofsake daarteen moes aanhangig maak in plaas dat die regering self besef dat ʼn ramptoestand nie die tyd is om op grond van ras te diskrimineer nie.
Die eerste drie weke van inperking was nodig om die verspreiding van die virus te keer en om die land se gesondheidstelsel op ʼn groot toename in siek mense voor te berei, maar baie van die inperkingsregulasies was onnodig en het die pandemiekrisis verder vererger deur die land in ʼn groter ekonomiese krisis te dompel.
Die Covid-19-epidemie gaan volgens alle aanduidings nog lank met ons wees en dit gaan duisende mense laat siek word. Die stryd daarteen is ʼn marathon eerder as ʼn naelloop, en die land het ekonomiese hulpbronne nodig om hierdie lang stryd te finansier. Daarom is dit dringend belangrik dat Solidariteit se voorstelle oor hoe alle mense wat gesond na die werksplek kan terugkeer landswyd in werking gestel behoort te word, en nie net noodsaaklike werkers nie. Buys het voorts ook benadruk dat buurtwagorganisasies toegelaat moet word om hul plaaslike gemeenskappe in samewerking met die polisie te help beskerm.
Die epidemie bly ʼn ernstige bedreiging, en die uitfasering beteken nie net dat mense soos voorheen kan aangaan nie, maar dat daar ʼn “nuwe normaal” is waarvolgens almal na mekaar se welstand sal moet omsien deur sosiale afstand te handhaaf en sekere gesondheidsprotokolle te handhaaf. Dit bly ook belangrik om mense met onderliggende siektetoestande steeds te beskerm, terwyl die staat ook sy vermoë om vir die virus te toets, dit op te spoor en siekes te behandel verder moet verbeter in samewerking met die privaat sektor.
Laastens lê die Beweging klem daarop dat die desentralisering van die hantering van die virus noodsaaklik is om suksesvol in die stryd te wees. “Die gefragmenteerde benadering waar verskillende provinsies inperking op verskillende vlakke kan uitfaseer, is ʼn welkome eerste stap,” het Buys gesê.