Demografie is die uiteindelike lotsbepaler van nasies. In Suid-Afrika het demografie ʼn kritieke rol in die vorming van die land gespeel.
Sedert 1965 was die demografiese druk op die wit minderheidsregering duidelik en dit sou onvermydelik tot ʼn oordrag van mag lei. In ʼn sekere sin was die 1994-verkiesing dus voorafbepaal deur Suid-Afrika se demografiese werklikhede.
Suid-Afrika het sedert 1960 ʼn sterk bevolkingsgroei ervaar met die bevolking wat meer as verdubbel het van die 17 miljoen in 1960 tot die 55 miljoen wat dit volgens die jongste beramings is. Hierdie bevolkingstoename het nie gelykvormig onder alle rassegroepe plaasgevind nie.
Dit het tot die huidige rasseverdeling van 80% swart, 9% bruin, 9% wit en 2% Indiër gelei.
Die Solidariteit Beweging bemoei hom hoofsaaklik met die Afrikaner- kulturele groep. Suid-Afrika hou ongelukkig nie data volgens etnisiteit by nie, slegs volgens taal en ras. As ons die wit Afrikaanse bevolking as aanwyser vir die groter Afrikaanse kultuurgroep gebruik, het die persentasie van die bevolking wat die Afrikaners verteenwoordig in 2011 tot 4,8% gedaal.
Hierdie demografiese werklikhede skep die konteks vir begrip oor die ruimte waarbinne die Solidariteit Beweging funksioneer.