By die beleidskonferensie van die ANC in 1997 het die ANC die beleid van transformasie aanvaar. In sy wese is dit ’n maatskaplik-ontwerpte beleid wat bepaal dat elke enkele instelling in Suid-Afrika die rassedemografie van die land moet weerspieël.
Elke enkele groot onderneming in Suid-Afrika moet ’n verslag saamstel wat by die Departement van Arbeid ingedien word, waarin daar gestipuleer word wat die rasseverhouding van die maatskappy se werknemers is en wat die maatskappy se teiken is om die rasseverhouding te korrigeer indien dit nodig is. Die transformasiebeleid het gelei tot massa-afleggings van hoofsaaklik wit staatsamptenare deur die ANC-regering. Die verlies aan institusionele kennis en vaardighede is nooit ten volle vervang nie. Een voorbeeld hiervan is Eskom, die enigste kragvoorsiener in Suid-Afrika wat in die vroeë 2000’s meer as 10 000 wit werknemers ontslae geraak het om regstellende aksie teikens te bereik. Minder as ’n dekade later het Suid-Afrika begin om beplande kragonderbrekings te ervaar wat bekendstaan as beurtkrag.
Diskriminasie op grond van ras is egter in konflik met artikel 9 van die Suid-Afrikaanse Grondwet, wat uitdruklik stel
- Die staat mag nie direk of indirek onbillik teen enigiemand diskrimineer op een of meer gronde nie, insluitend ras, gender, geslag, swangerskap, huwelikstatus, etniese of sosiale oorsprong, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.
Hierdie bepaling word egter opgevolg deur subartikel 5 van artikel 9, wat bepaal
- Diskriminasie op een of meer van die gronde gelys in subartikel (3) is onbillik tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is.
Subartikel 5 word gebruik om regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging te regverdig deur rasse diskriminasie teen wit, Indiër en bruin gemeenskappe te gebruik.
Die konsep van transformasie, soos verskans in die ANC se beleidsdokumente, is belangrik sodat die konteks waarin die Solidariteit Beweging funksioneer verstaan kan word.
Gedurende die Covid-pandemie het die ANC die omvang van hierdie beleid uitgebrei om hulpfondse in te sluit, met die Departement van Toerisme wat uitdruklik gestel het dat slegs maatskappye in meerderheid swart besit hulpfondse sal ontvang.[1] [2]
[1] https://www.news24.com/fin24/economy/south-africa/govts-r12bn-tourism-equity-fund-not-only-for-businesses-that-are-100-black-owned-minister-20210317
[2] https://www.news24.com/fin24/economy/nef-launches-an-economic-distress-fund-for-black-owned-businesses-20210220